Volstruisvleis mag weer uitgevoer word
2011-10-10 09:38
Mosselbaai – Volstruisvleis buite die Klein Karoo-vallei kan van Maandag af weer na die buiteland uitgevoer word.
Volstruisvleis uit Suid-Afrika behoort al teen die naweek in Europa beskikbaar te wees met die slag van volstruise wat Maandag op Mosselbaai, Swellendam, Graaff-Reinet en Malmesbury begin.
’n Algehele verbod op die uitvoer van volstruisvleis is in April ingestel nadat die H5N2-virus op ’n plaas in die Klein Karoo-vallei gekry is. Daarna is die virus in Julie op Heidelberg gevind.
Opvolgtoetse wat later gedoen is op die plaas by Heidelberg waar die virus gevind is, het skoon getoets. ’n Drie maande lange tydperk het gevolg waarin die virus nie op plase buite die Klein Karoo-vallei voorgekom het nie.
Aansoek is toe by die Europese Unie (EU) gedoen dat vleis weer uitgevoer mag word en die groen lig is Donderdag gegee.
Ingevolge standaard-prosedures moet eers drie dae gewag word voordat die slagtery hervat kan word en dié tydperk het gister verstryk. Die verbod is steeds van toepassing op die Klein Karoo-vallei omdat ’n virus nog onlangs daar voorgekom het.
Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou en landelike ontwikkeling, sê aansoek is by die EU gedoen dat ’n skoon sone rondom die Klein Karoo-vallei en in die res van die land gevestig word. Sowat 50% van die land se volstruise is buite die Klein Karoo-vallei.
Volgens Van Rensburg was die bedryf op die rand van ineenstorting. “Dit het my baie slapelose nagte besorg. Die jongste gebeure beteken dat ’n groot deel van die bedryf weer na normaal kan terugkeer.”
Hy het gesê die impak van die virus-probleme was wyer as net die volstruisbedryf. Verwante bedrywe, soos die vervoerbedryf, is ook beïnvloed, want mense verdien geld uit die vervoer van volstruise.
Van Rensburg het gesê hopelik sal die situasie in die Klein Karoo-vallei oor drie maande weer normaal wees. Volstruisvleis uit die gebied kan dan reeds weer vroeg in Januarie na die buiteland uitgevoer word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger