Volstruise weer eens geslag weens H5N2-virus
2011-09-01 08:10
Oudtshoorn – Die H5N2-virus wat die Klein-Karoo sedert 11 April vanjaar verlam, is helaas nog nie weg nie.
“Die virus is op nog ’n plaas in Volmoed gekry en nóg volstruise moes geslag word,” het Anton Kruger, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Volstruis-Besigheidskamer, gister gesê.
Die volstruise het Maandag positief getoets vir die virus.
“Dit bring die aantal volstruise wat tot dusver geslag moes word op 33 000 te staan. Die volstruise het op 33 plase in die Klein-Karoo-vallei voorgekom.”
Die virus wat nogmaals in die gebied gevind is, is ’n terugslag.
“Dit beteken volstruise mag steeds nie verskuif word nie. Net eiers en pasgebore volstruiskuikens mag met ’n spesiale Rooi Kruis-permit vervoer word.
“Die enigste volwasse volstruise wat verskuif mag word, is dié van boere wat ’n afspraak het om volstruise vir die binnelandse vleismark by die volstruisslagplaas in die dorp te laat slag.”
In die res van die land kon volstruise sedert 3 Mei vir die binnelandse mark geslag word.
Opvolgtoetse op die plaas by Heidelberg, waar die virus gevind is, het skoon getoets.
“Die 10km-kwarantyngebied wat volgens die Europese Unie (EU) se internasionale gesondheidsregulasies rondom die besmette plaas van krag was, is weer opgehef.”
Die nasionale departement van landbou bring op 8 September ’n aansoek om hersonering van gebiede buite die Klein-Karoo-vallei vir die slag van volstruise vir die uitvoermark. Die aansoek is reeds geformuleer en sal op 8 September in Brussel aan die EU voorgelê word, het die Wes-Kaapse departement van landbou bevestig.
Die sonering sal nie die Klein-Karoo-vallei geld nie. “’n Aansoek vir uitvoerhervatting uit die Klein-Karoo-vallei kan eers gebring word nadat die gebied drie maande lank vry van die H5N2-virus was. Elke keer as dit weer voorkom, word die aanvang van die drie maande uitgestel.”
Highgate, die oudste volstruisskouplaas wie se mak volstruise weens die virus van kant gemaak moes word, het pas “ter wille van toerisme” ’n ooreenkoms met die Kambro Diggers, ’n plaaslike teatergroep, aangegaan. “Highgate bied voortaan een keer per week ’n teaterstuk van die Kambro Diggers aan,” het Marelie Keller van die Terra Firma-geleentheidsorganiseerders gesê.
“Die Kambro Diggers sal van volgende week af elke Woensdag om 19:00 Journey to Kannaland in die opelugteater opvoer. Toegang sluit ’n tradisionele Karoo-ete in.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger