Volstruise is gesond en slaggereed
2011-07-14 09:07
Oudsthoorn - Volstruisboere in die Klein-Karoo-vallei jubel nadat hulle Woensdag toestemming gekry het om weer vir die plaaslike mark te begin slag.
“Ons is baie dankbaar daaroor dat die volstruise van besmette plase uitgeslag is,” het Anton Kruger, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Volstruissakekamer, Woensdagmiddag gesê.
Volgens hom het dit staatsveeartse in staat gestel om, in ooreenstemming met die reëls en regulasies, toestemming te gee dat slagtery vir die plaaslike mark van plase in die Klein-Karoo-vallei by die KKI-abattoir in Oudtshoorn hervat mag word.
Die slagtery sal vandag begin.
Volgens Kruger is die slagtery onderhewig daaraan dat die volstruise ten volle naspeurbaar moet wees en 28dae voor hulle geslag word negatief vir die H5N2-virus moes getoets het. “Die implikasie hiervan is dat produsente wat sedert April nie slaggereed-volstruise kon slag nie, dit nou wel kan doen en dus ’n inkomste kan kry.”
Verbruikers hoef nie bang te wees dat onveilige vleis op die winkelrakke sal beland nie omdat maatreëls gereed is om te keer dat siek volstruise geslag word.
Dit sluit in die toetse vir die H5N2-virus, inspeksie van staatsveeartse by die abattoir voor slagting, inspeksie van die vleis ná die slagtery deur vleisinspekteurs en die vervoer van volstruise onder die streng voorwaardes van ’n spesiale permit wat deur ’n staatsveearts uitgereik word.
“Dit is verblydende nuus,” was die reaksie van Johan Keller van die plaas Volmoed.
Sowat 4 500 van sy volstruise moes weens die virus geslag word.
“Ons volstruise is geslag, maar ons hoop om teen einde Augustus weer volstruise te begin aankoop noudat hulle weer geskuif mag word.”
Hein Schoeman, ’n boer van Kandelaarsrivier, se volstruise het die virus vrygespring. Hy het egter geen inkomste gehad nie omdat hy nie volstruise kon slag nie.
“Dat ons weer kan slag is ’n onbeskryflike genade. Ons sit al drie maande met die spul volstruise wat nie geslag kan word nie. Ons beenmeelfabriek het stilgestaan,” het hy gesê.
“Die belangrikste is dat ons nou weer die 15g esinne wat vir ons werk aan die gang kan hou.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger