Voetgangers op sypaadjie raakgery
2009-11-04 09:16
Johannesburg – Twee voetgangers is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat die bestuurder van ‘n motor beheer oor sy voertuig verloor het en in hulle vasgery het.
Volgens Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, het die ongeluk Woensdagoggend omstreeks 07:30 op die hoek van Modderfontein- en Bontebokweg in Kempton Park plaasgevind.
“Na bewering het die bestuurder van ‘n Volkswagen Golf oor die kruising gery en met ‘n ander motor gebots. Hy het beheer oor sy voertuig verloor en in die voetgangers, wat op die sypaadjie gestaan het, vasgery,” het Botha gesê.
Die polisie is steeds besig om die saak te ondersoek.
Paramedici van Netcare 911 was spoedig op die toneel en het beide die voetgangers en motorbestuurder bygestaan. Die beseerdes is na naby geleë hospitale geneem.
–Netcare 911