Voetganger ernstig beseer ná bus teen bakkie bots
2010-07-21 18:02
Kaapstad – Twee mense is beseer, waarvan een in ‘n kritieke toestand is, nadat ‘n bus Woensdag teen ‘n bakkie in Johannesburg se middestad gebots het.
Volgens Chris Botha, Netcare911-woordvoerder, het ‘n bus teen ‘n Isuzu-bakkie by die kruising van Joe Slovo-straat en Smithstraat gebots. Die ongeluk het net ná 07:00 Woensdagoggend plaasgevind.
Die impak het veroorsaak dat die bakkie op ‘n voetganger en ‘n ander voertuig val.
Die bestuurder van die bakkie was in ‘n kritieke, maar stabiele toestand terwyl die voetganger ernstige beserings opgedoen het.
Paramedici het die voetganger op die toneel behandel terwyl die man wat in ‘n kritieke toestand was, na die Netcare Millpark-hospitaal geneem is.
Die voetganger is na die Charlotte Maxeke-hospitaal geneem vir verdere behandeling.
- Nuus24
Volg Nuus24 op Twitter.