Voertuie wat kinders vervoer 'nie gemonitor'
2011-08-26 13:37
Kaapstad – Baie skoolkinders sterf op paaie omdat die voertuie wat hulle vervoer nie gemonitor word nie, het die parlementêre komitee oor onderwys en ontspanning Vrydag gesê.
"Sommige van die taxi's en busse is onpadwaardig, maar word steeds toegelaat om kinders te vervoer. Dit moet stop," het Mamosoeu Makgatle, voorsitter, gesê.
Veertien skoolkinders en 'n busbestuurder is dood en 44 kinders is Woensdag naby Knysna beseer toe hul bus in 'n rivier beland het. Die bus was vermoedelik oorlaai.
Die komitee veroordeel enige vorm van roekeloosheid, insluitend om die voertuig te oorlaai, sowel as om die 'n voertuig met foutiewe remme te bestuur, wat die dood van kinders kan veroorsaak, het Makgatle gesê.
"Indien die bewerings van nalatigheid waar is, moet daar streng teen die diensverskaffer opgetree word."
As deel van sy oorsigverantwoordelikheid, sal die komitee oorweeg om provinsiale departemente van onderwys en diensverskaffers van skoolvervoer, vra om beheerstrategieë te formuleer om nog sterftes te verhoed.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA