Voedselproduksie word bedreig
2009-09-12 07:33
Elise Tempelhoff
Johannesburg - Klimaatsverandering bedreig kosproduksie in Suid-Afrika se somerreënvalstreke ernstig.
Voorspellings dat reënval in die somerreënvalstreke met tot soveel as 10% kan daal en temperature binne vier dekades met gemiddeld meer as 10° C kan styg, laat kommer ontstaan oor misoeste en die gepaardgaande welstand van kosproduksie in die land.
Dit is enkele van die bevindinge wat verskyn in “Mapping South African Farming Sector Vulnerability to Climate Change and Variability,” ’n verslag wat onlangs deur die International Food Policy Research Institute (Ifpri) gepubliseer is.
Luidens die verslag is boere in Limpopo, KwaZulu-Natal (KZN) en die Oos-Kaap die kwesbaarste vir klimaatsverandering en hul aanpasbaarheid by uiterste weersomstandighede is baie laag.
Baie is bestaans- en opkomende boere en landelike gemeenskappe is vir hul inkomste en kos regstreeks van hul kleinskaalse boerderye afhanklik.
Glwadys Aymone Gbetibouo en Claudia Ringler, Ifpri-navorsers en outeurs van die verslag, sê hoewel die Wes-Kaap en Gauteng erg onder storms, droogtes en vloede gaan deurloop, is boere in dié provinsies in ’n groot mate welgesteld en het hulle die infrastruktuur om by klimaatsverandering aan te pas. Hul boerderybedrywighede is ook meestal gediversifiseerd.
Boere in die arm landelike gebiede van Suid-Afrika sal nou moet begin oorskakel na ander gewasse. Voorspellings dui ook daarop dat mielies, die stapelvoedsel van hierdie gemeenskappe, binnekort nie meer suksesvol in KZN, die Oos-Kaap, en dele van Limpopo verbou sal kan word nie.
Luidens die verslag is die bestaansboere in KZN, Limpopo en die Oos-Kaap hoofsaaklik van reën afhanklik. Hul grondgehalte is weens oorbeweiding en gepaardgaande erosie swak.
Die verslag wys voorts daarop dat die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en KZN se kusgebiede die afgelope dekade die hoogste voorkoms (frekwensie) van uiterste weersomstandighede, vloede en droogtes ervaar het.
Veral die Wes-Kaap gaan weens uiterste weersomstandighede groot ekonomiese verliese ly, maar dié provinsie se aanpassingsvermoë hierby is “redelik” hoog weens die vlak van sy infrastruktuurontwikkeling en die inwoners se goeie toegang tot hulpbronne, luidens die verslag.
Die hoogste temperatuurveranderings (meer as 10°C) word voorspel vir Mpumalanga, die droë Noord-Kaap en dele van die Vrystaat, terwyl die grootste veranderinge in reënval in Noordwes en Gauteng gaan voorkom.
Die navorsers doen aan die hand dat verligtingsprogramme en landbouversekering teen verliese ingestel word.
- Beeld