‘Voedselkrisis is aan’t kom’
2011-02-12 06:44
Johannesburg - Die volgende groot voedselkrisis is op hande, het hy die regering al skriftelik gewaarsku.
Tensy die rand weer versterk, gaan kos in die volgende drie tot ses maande baie duur word, het Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van die Meulenaarskamer en aangewese uitvoerende hoof van Graan SA, Vrydag gesê.
Die vorige voedselkrisis was in 2008.
De Villiers het gesê eksterne faktore, soos die stygende olieprys en gebeure in plekke soos Egipte en Tunisië, skrik beleggers af om in ’n opkomende ekonomie soos dié van Suid- Afrika te belê. Dit lei daartoe dat die rand verswak en dit kan kospryse dadelik beïnvloed.
De Villiers, wat die afgelope 21 jaar uitvoerende hoof van die Meulenaarskamer was en op 1 Maart by Graan SA begin werk, het gesê hy glo die regering is soos talle ander regerings wêreldwyd terdeë bewus daarvan dat hoë voedselpryse tot onrus kan lei.
Hoewel Graan SA se hoofkantoor in Bothaville in die Vrystaat is, sal De Villiers se kantoor in Pretoria wees. Dié oud-Kovsie, wat dr. Kobus Laubscher opvolg, glo hy sal produktiewer wees as hy naby die regering se besluitnemers is en nie onnodig tyd op die pad tussen Bothaville en Pretoria vermors nie.
“Ek het nog nooit geboer nie en ek weet nie hoe nie, maar ek kan danksy my 24 jaar ervaring by die Meulenaarskamer aan die regering verduidelik dat as oesskattings verkeerd is, gaan die land se mense uiteindelik te veel of te min betaal vir hul pap,” het De Villiers gesê.
“Vroeër het die boere my daarvan beskuldig dat ek (as die meulenaars se verteenwoordiger) probeer het om die pryse af te praat en nou hoop hulle dat ek voortaan as Graan SA se man die prys gaan opstoot.
“Maar Jannie de Villiers kan niks aan die mielie- en koringprys doen nie,” het gesê.
Hy glo daar is vanweë die vraag-en-aanbodsituasie in die wêreld ’n goeie toekoms vir graanboere in Suid-Afrika en meen daar moet ook al hoe meer na die produksie van biobrandstof gekyk word solank dit nie voedselsekerheid in die gedrang bring nie.
Hy meen ook die regering moet nouer met die georganiseerde landbou saamwerk as hy die broodnodige werkskepping en voedselsekerheid wil verseker.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld