Vloot-rekruut sterf ná oefening in yskoue water
2011-07-02 09:16
Johannesburg - ’n Vloot-rekruut is vandeesweek vermoedelik weens ontbering dood nadat hy en sy makkers glo vroegoggend in ysige koue besig was om ’n dam oor te steek.
Die rekrute was by die Stompdriftdam, ’n visvangoord by De Rust buite Oudtshoorn, met ’n oefening besig toe bevare seeman Foster Veli Maluleka (27) glo ineengesak het.
Die rekrute het pas die dam se oorkant bereik toe hulle sien Maluleka is ongesteld. Die rekrute was glo ’n geruime tyd in die water in kortbroeke en T-hemde.
Maluleka is siekeboeg en toe hospitaal toe geneem, maar het beswyk. Na verneem word, was daar geen water in sy longe nie.
As vlootsoldaat kon hy swem.
Die weermag het bevestig Maluleka was lid van die vloot se maritieme reaksiemag en dat hulle en die polisie die saak ondersoek.
Van die huidige inname van nagenoeg 800 rekrute het minstens 140 binne die eerste drie maande aan basiese opleiding onttrek.
Adv. Pikkie Greeff van die SA Nasionale Weermagunie (Sanwu) sê hy het verlede week inligting ontvang dat ses rekrute by die skool ernstig beseer is toe ’n peloton gestewelde soldate as straf oor hulle gehardloop het.
“Nou is iemand dood. ’n Mens verkluim nie as jy deur die water loop nie.
“ ’n Mens verkluim as jy vir ’n lang tyd gedwing word om in die water te bly.”
Sanwu oorweeg ’n tolvrye nommer vir klagtes om verdere ernstige beserings of sterftes te keer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld