Vloedwater, weerlig eis 5 in KZN
2012-01-02 23:03
Johannesburg – Minstens vyf mense is dood ná erge stormweer in uMsinga en uMvoti in KwaZulu-Natal, het SABC-radionuus berig.
Nog vier mense word vermis en 22 word in 'n hospitaal behandel.
Zweli Mkhize, premier van KwaZulu-Natal, het op 'n besoek aan families wat dakloos gelaat is, gesê hy is bekommerd omdat lyke wat gevind word nie ooreenstem met die beskrywings van vermiste mense nie.
"Dit beteken dis 'n uitdaging om te beraam hoeveel mense gesterf het," het hy in 'n radio-onderhoud gesê.
'n Fratsdonderstorm en sterk winde het Saterdag in die gebied verwoesting gesaai.
Een van die vyf slagoffers is deur weerlig getref.
Wonings en infrastruktuur is ook beskadig.
Nhlanhla Khubisa, 'n woordvoerder van die Nasionale Vryheidsparty, het die hoop uitgespreek dat uMsinga en uMvoti deur die Umzinyathi-distrik, in samewerking met die KwaZulu-Natalse regering, tot rampgebiede verklaar sal word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA