Vloedskade beloop meer as R4 miljard
2011-02-16 08:56
Pretoria - Die onlangse vloede het na raming meer as R4 miljard se skade aan openbare infrastruktuur in Suid-Afrika aangerig, het Sicelo Shiceka, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Dinsdag bekend gemaak.
Shiceka het in Johannesburg, waar die mynreus BHP Billiton R18 miljoen aan die regering se rampverligtingsfonds geskenk het, gesê minstens 103 mense is sedert middel Desember weens vloede dood.
KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap het die meeste sterftes gehad.
Shiceka, wat verlede maand as voorsitter van die regering se interministeriële komitee vir die bestuur van die vloede aangestel is, het gesê skade aan openbare infrastruktuur soos skole, paaie, brûe, kerke, klinieke, damme en ander plaaslike geriewe is na raming R3,6 miljard.
Die departement van landbou, bosbou en visserye se voorlopige raming beloop meer as R400 miljoen.
Hy sê die skadeberaming is gegrond op inligting wat van provinsiale rampbestuursentrums landwyd en munisipaliteite ontvang is.
TLU SA het onlangs gesê uit voorlopige syfers blyk dat die “wesenlike werklike verliese” wat kommersiële boere gely het deur skade aan private infrastruktuur en insetverliese meer as R1,8 miljard beloop.
Die ware omvang van die skade aan openbare infrastruktuur moet nog deur kenners bevestig word.
Die minister het gesê die vloede het meer as 14 400 huishoudings beïnvloed, waarvan die meeste in KwaZulu-Natal is (meer as 6 200), gevolg deur ongeveer 3 000 in die Vrystaat. Meer as 13 000 huise (formeel en informeel) is beskadig.
“Die invloed van die La Niña-weerpatrone bring mee dat ons vanjaar tot in Mei en selfs nog langer reën kan kry. Dit beteken daar kan nog natuurrampe wees,” het Shiceka gesê.
Pres. Jacob Zuma het verlede week in sy staatsrede bekend gemaak die regering het R800 miljoen opsy gesit om vloedslagoffers te ondersteun.
- Volksblad