Vloed-chaos in Centurion
2011-01-17 10:40
Pretoria – Twee mense word vermis ná Maandagoggend se vloede in en om Centurion suid van Pretoria, het 'n woordvoerder van die Tshwane-metroraad gesê.
Willie Baloyi, 'n woordvoerder van die Tshwane-metroraad, sê die reddingsdienste het daarin geslaag om vier mense te red wat in Centurion, Olifantsfontein en Irene deur die vloedwater vasgekeer is.
Verskeie strate en 'n hotel in die gebied is oorstroom. Die bestuurder van 'n voertuig is gered nadat dit by 'n oorstroomde laagwaterbrug deur die water weggevoer is.
Die Hennopsrivier het sy walle oorstroom en motoriste is gewaarsku om alternatiewe roetes te gebruik, berig Beeld.
Endstraat, wat onder die N14 deur loop, is ook gesluit.
Die regering gaan intussen voort met bystand aan mense wat uit laagliggende gebiede verwyder word.
Gedeeltes van die Centurion Lake-hotel is onder meer onder water, berig Fanie van Rooyen.
Verskeie laagwaterbrûe in die omgewing het verspoel en Eyewitness News berig 'n vrou is uit 'n motor gered wat deur vloedwater meegesleur is. Volgens die vrou was haar man ook in die motor en daar word nou na hom gesoek.
'n Taxi is ook uit die water gehaal nadat die bestuurder 'n versperring verontagsaam en oor 'n laagwaterbruggie gery en sy voertuig meegesleur is.
Die Apies- asook Hennopsrivier is sedert laatnag Maandag oorstroom en mense wat vermoedelik in vloedwater beland het, word in Irene vermis.
Venetia Magane, 'n weervoorspeller, het gesê 'n 80% kans op swaar reën word vir Maandag voorspel.
Volgens Magane word 60% reën vir Dinsdag en Woensdag voorspel en Donderdag daal die kans op reën na 30%.
Het jy enige foto's van die vloede in Gauteng? Stuur hulle vir Nuus24.
Volg Nuus24 op Twitter