Vliegtuig van begin af in probleme
2009-09-24 14:14
Johannesburg - Die vliegtuig wat neergestort het op 'n skoolterrein in Merebank, suid van Durban, het kort na sy vertrek al 'n noodgeval aangemeld.
Dié inligting is verskaf deur die lugredery Airlink, wie se vliegtuig in die ongeluk betrokke was.
"Die vliegtuig, 'n Jetstream 41 (29 sitplekke), het vanaf Durban Internasionale Lughawe vertrek en net nadat dit opgestyg het, is daar vanuit die vliegtuig 'n noodgeval verklaar. Lugbemanning het 'n verlies van enjinkrag geraporteer, en rook het rook van agter die vliegtuig uitgestroom," lui 'n verklaring op die redery se webwerf.
"Die vliegtuig het sowat 400 meter van die lughawe neergestort op die sportvelde van die hoërskool Merebank. Die tuig het in drie stukke gebreek."
Die vliegtuig was glo op pad na Pietermaritzburg toe die ongeluk om 08:00 plaasgevind het.
Twee loodse is beseer en 'n lugwaardin is ernstig beseer. Hulle is nabye hospitale gehaas.
Daar was geen passasiers aan boord nie.
KwaZulu-Natal se LUR vir vervoer het gevra dat die lugvaartowerhede die ongeluk moet ondersoek.
- Sapa