Vliegtuig val in Johannesburg
2010-04-12 16:18
Johannesburg – ‘n Ligte vliegtuig het Maandagmiddag op ‘n vliegveld in Benoni, oos van Johannesburg, neergestort, het paramedici gesê.
Volgens Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, het die vlieënier doodgebrand toe die vliegtuig neergestort het kort nadat dit vanaf Petit-lughawe in Benoni opgestyg het.
“Die vliegtuig het omstreeks 15:00 in die grond ingeploeg en toe aan die brand geslaan,” het Botha gesê.
Brandweerdienste het dadelik die brand geblus maar kon nie die vlieënier, wat alleen in die vliegtuig was, red nie.
Die voorval sal nou deur die Burgerlugvaartowerheid (BLO) ondersoek word.
- Sapa