Vliegtuig land op Durban strand
2010-01-09 15:02
Durban - ‘n Klein, viersitplek vliegtuig het ‘n buiklanding op ‘n Durbanse strand gemaak en baaiers nouliks gemis.
“’n Ligte vliegtuig was besig om oor die stad te vlieg en het tegniese probleme ondervind,” het Jeff Wicks, Netcare 911-woordvoerder, gesê.
’n Paartjie en hul twee kinders was in die vliegtuig toe die skroef blykbaar afgebreek het.
Die vliegtuig het ‘n buiklanding op Warnerstrand, suid van Durban, gemaak en tussen 70 en 100 mense op die strand nouliks gemis.
Die man het snywonde aan sy kop en oor opgedoen, maar die res van die familie is ongedeerd.
- Sapa