Vliegtuig in Jhb ontruim ná kaping-alarm loei
2010-04-03 13:29
Johannesburg – ‘n Vliegtuig wat van Zimbabwe na Johannesburg onderweg was is minute ná dit geland het ontruim nadat ‘n kaping-alarm Saterdag afgegaan het, het amptenare gesê.
Lugverkeersbeheer op OR Tambo Internasionale Lughawe het die waarskuwingsein wat hulle van Zimbabwe ontvang het oorgedra , het ‘n verklaring van die kantoor van die nasionale polisiekommissaris Bheki Cele gesê.
Daar was 113 passasiers en ses bemanningslede aan boord die vliegtuig.
“Binne minute [na landing] is die passasiers verwyder en na ‘n geïsoleerde area geneem waar hulle ten volle ondersoek is,” het die verklaring gesê.
Ná verdere ondersoek het amptenare wel gevind dat die sein ‘n vals alarm was en dat dit as gevolg van ‘n tegniese fout afgegaan het.
- Sapa