Vliegtuie bots by Wonderboom-lughawe
2010-10-26 18:10
Pretoria - Twee ligte vliegtuie het Dinsdagmiddag teen mekaar gebots by die Wonderboom-lughawe in Pretoria, het paramedici gesê.
Volgens Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, is die presiese oorsaak van die voorval nog nie bekend nie en sal die burgerlugvaartowerheid verdere ondersoek instel.
“Drie persone het ernstige beserings opgedoen. Twee van die slagoffers is na die Netcare Montana-hospitaal vervoer en die derde na die Tswhane-distrikshospitaal vir verdere mediese behandeling,” het Botha gesê.
Peet van Rensburg, lughawebestuurder, het die voorval bevestig maar alle navrae na Console Tleane, woordvoerder van die Tshwane-munisipaliteit, verwys.
Geen verdere inligting is nog bekend nie.
Is jy op die toneel? Stuur jou foto’s aan Nuus24.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24