Vliegramp: DNS gebruik om lyke uit te ken
2011-08-17 11:03
Tzaneen – Die lyke van die 13 mense wat in 'n dubbele vliegongeluk in Limpopo gesterf het, sal Woensdag na Pretoria gebring word sodat nadoodse ondersoeke gedoen kan word, het die polisie gesê.
"Die lyke moet ook uitgeken word," het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.
"Sommige van die lyke is onherkenbaar verkool. Ons moet DNS-toetse doen."
Die soektog na die twee vermiste vliegtuie is Dinsdag beëindig toe die lyke op die Mamotswiri-piek tussen die wrakke van die vliegtuie gevind is.
Diegene aan bood die vliegtuig met die registrasie ZU MMI, was die vlieënier, Brian Gruar, en die passasiers, Marrion Anderson, Maddison en Alexandra Doak, Tess Spence, Louise Warden en Kevin Woolacott.
Die vlieënier Peter Gildenhuys en Stuart en Peter van Oldenburg, Frans Dely, Marietjie de Witt, en Linda Pierce was aan boord die vliegtuig met die registrasie ZS NJX.
Die Albatross-vliegtuie het Sondag om 10:30 van Tzaneen na die Randse Lughawe in Johannesburg vertrek. Die vliegtuie is op 13:30 dieselfde dag as vermis aangemeld, het owerhede gesê.
Die vliegtuie is 08:15 Dinsdagoggend gevind.
Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) ondersoek die ongeluk.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA