Vliegongeluk: Insittendes op slag dood
2011-08-16 11:14
Tzaneen – Al 13 mense wat aan boord twee Albatros-vliegtuie,wat Sondag in die Maake-gebied naby Tzaneen verdwyn het, is op slag dood, het owerhede bevestig.
Brig. Hangwani Mulaudzi, polisiewoordvoerder, het gesê die lyke van die
13 mense, waaronder twee kinders, is Dinsdagoggend naby die wrak gevind,
berig Sapa.
"Die families van die oorledenes is in kennis gestel en ontvang
berading."
Die name van die oorledenes is: Peter Gildenhuys, Peter van Oldenburg, Stuart van Oldenburg, Frans Dely, Marietjie de Witt, Linda Pierce, asook Brian Gruar, Marrion Anderson, Maddison Doak, Alexandra Doak, Tess Spence, Louise Warden en Kevin Woolacott.
Die vliegtuie het direk in berge in Lekgalametse gevlieg, berig Beeld se Marietie Louw.
Die vliegtuie het ook geen vlugplanne voor Sondag se doodsvlug ingedien nie.
Hannes Steyn, hoof van burgerlike beskerming in Tzaneen, het gesê die
laaste kontak van die vliegtuie is 10:20 Sondagoggend ontvang. Geen
noodseine is ontvang nie.
"Ons kon met die inligting wat ons ontvang het vasstel waar die vliegtuie is."
Die twee wrakke is op 1 570 m bo seespieël, sowat 150 m van mekaar, op die Mamotswiri-piek gevind.
Ses insittendes was aan boord die een vliegtuig en sewe aan boord die ander een.
Mulaudzi het gesê die polisie en die Burgerlugvaartowerheid (BLO) sal nou die ondersoek oorneem.
Die vliegtuie was van Tzaneen na die Randse Lughawe in Gauteng onderweg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24