Vleisskandaal: Kommer oor 'geheime' bestanddele
2013-02-27 11:51
Kaapstad – Prof. Louw Hoffman, 'n navorser, het gesê bestanddele in Suid-Afrikaanse vleisprodukte wat nie aangedui word nie, is 'n groot rede tot kommer, berig RSG.
Navorsing deur Hoffman en dr. Donna-Maree Cawthorn van die Universiteit van Stellenbosch het getoon dat 68% van maalvleis, frikadelle, wors, gedroogde vleis en vleis van delikatesse bestanddele bevat wat nie op die verpakking aangedui word nie.
Hoffman het gesê die hoofrede tot kommer is dat dit dalk allergiese reaksies kan veroorsaak.
Hy het gesê allergene soos soja en gluten, wat allergiese reaksies tot gevolg kan hê, is in die vleisprodukte gevind.
Hoffman sê hulle het onder meer waterbuffel, donkie en bokvleis in produkte gekry terwyl vark en hoender ook in vleisprodukte was sonder dat dit aangedui is.
Verskeie voorvalle is die afgelope ruk in Europa aangemeld waar perdevleis in voedselprodukte wat as beesvleis gemerk is, gevind is.
Perdevleis is in voedselprodukte soos hamburgers, lasagne, pastasous, skooletes en selfs hospitaaletes in Europa gevind.
– Volg Nuus24 op Twitter