Vleisprodukte in SA 'veilig'
2013-02-28 17:42
Kaapstad – Vleisprodukte in Suid-Afrika hou geen gevaar in vir verbruikers se gesondheid nie, het Rob Davies, minister van handel en nywerheid, Donderdag gesê.
Davies het aan die parlement gesê hy het met die ministers van gesondheid, en landbou, bosbou en visserye vergader toe navorsing oor die teenwoordigheid van perdevleis in produkte wat as beesvleis verkoop word, vroeër die week aan die lig gekom het.
"Sover ons kennis strek, is daar geen gevaar vir mense se gesondheid van enige van die vleisprodukte wat in Suid-Afrika te koop is nie.
"Maar... verbruikers het die reg om te weet wat hulle eet."
Die departement van handel en nywerheid werk aan 'n nuwe bepaling wat akkurate etikette op alle vleisprodukte sal vereis, sodat die inhoud duidelik sigbaar is.
"Suid-Afrikaanse verbruikers het 'n reg om te weet wat hulle eet, en ons gaan seker maak daardie inligting word verskaf," het Davies gesê.
'n Studie deur wetenskaplikes van die Universiteit van Stellenbosch het vroeër getoon dat voedselprodukte wat bedrieglik as beesvleis gemerk is, wel in die land beskikbaar is.
“Die studie het getoon dat enigiets van soja, donkie-, bok- en waterbuffelvleis in sowat 68% van die 139 maalvleise, hamburgers, deli-vleise, wors en gedroogde vleise wat getoets is, gevind is. In ander gevalle is onverklaarde plantmateriaal ook opgespoor,” het die universiteit Maandag op sy nuus-blog berig.
Die studie, wat onderneem is deur Donna-Maree Cawthorn en Louw Hoffman van die universiteit se departement van veekundige wetenskappe, is in die internasionale Food Control-joernaal gepubliseer.
“Ons studie bevestig dat verwerkte vleis wat verkeerdelik gemerk is, algemeen in Suid-Afrika voorkom en nie net regulasies van die etikettering van voedsel oortree nie, maar ook ekonomiese, godsdienstige, etiese en gesondheidskwessies skep,” het Hoffman gesê.
– VOlg nuus24 op Twitter.
- SAPA