Vissersboot brand steeds in Kaapstad
2011-12-03 18:16
Kaapstad – 'n Chinese vissersboot was teen Saterdag laatmiddag steeds in ligte laaie by die Kaapstadse hawe, het die stad se rampbestuursowerhede gesê.
Theo Layne, woordvoerder vir Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, het gesê die brand het kort na middernag ontstaan.
"'n Deel van die vaartuig se brandstofvoorraad is op die oomblik aan die brand."
Hy het gesê die brand het begin in 'n kompartement waar karton en nette geberg word.
Brandbestryders sukkel steeds om die brand onder beheer te bring.
"Dis baie moeilik en baie warm... die vaartuig hel oor na een kant en dis wat dit te gevaarlik maak vir brandweerpersoneel om aan boord te kom," het Layne gesê.
Een man is vir rookinaseming behandel, maar hy het geen verdere mediese aandag nodig gehad nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA