Visserman se lyk op strand gevind
2010-01-05 07:39
Aldi Schoeman
Kaapstad - Die lyk van ’n 35-jarige visser, Lester Davids, het Maandagoggend vroeg by Buffeljagsbaai op die strand uitgespoel nadat hy en vier ander die vorige aand ter see in die moeilikheid beland het.
Buffeljagsbaai is naby Pearly Beach.
Twee van die mans wat in die see beland het, het daarin geslaag om uit te swem, maar die ander twee, Daniel Groenewald en Percival Botha van Buffeljagsbaai, word steeds vermis.
Hul ouderdomme is onbekend.
Davids, van Gansbaai, is Sondagmiddag saam met twee ander, wie se name nie bekend is nie, met ’n rubberboot op die see uit om te gaan visvang.
“Teen donker het die see ontstuimig geraak en die rubberboot het omgeslaan.
“Twee ander mans (Groenewald en Botha, wat op die strand was) het gesien hulle is in die moeilikheid en het met hul kragboot ingegaan om die drie vissers op die rubberboot te help,” het supt. Maree Louw, bevelvoerder van die Bredasdorp-polisiekantoor, gesê.
Die kragboot het egter ook omgeslaan en sy insittendes – Groenewald en Botha – word steeds vermis.
Twee van die vissers op die rubberboot het daarin geslaag om uit te swem, en Davids se lyk en die boot het Maandag uitgespoel.
Louw het gesê die polisie, die Nasionale Seereddingsinstituut en Overberg-rampbestuur was op die strand, maar die see was nog te gevaarlik vir ’n soektog.
Rampbestuur het met ’n helikopter oor die gebied gevlieg, maar kon nie daarin slaag om iets op te spoor nie.
Polisieduikers sal Dinsdagoggend na die toneel gaan.
- Die Burger