Visagie kom belofte na met bedanking
2010-06-11 11:00
Johannesburg – Andre Visagie, voormalige sekretaris-generaal van die AWB, sê sy bedanking is deel van ‘n belofte wat hy aan Eugene Terre’Blanche gemaak het.
Visagie het aan die omstrede verregse leier belowe dat hy vir sy mense, "die Boere-nasie," sal sorg ná Terre-Blanche se dood.
“Ek het bedank weens die stadige pas wat die nuwe AWB aangee in die stryd wat ons nasie in die gesig staar,” het hy gesê.
Visagie is van mening dat die AWB te lank gevat het om ‘n sekuriteitsmag te stig wat spesifiek Afrikaners en veral boere, beskerm.
“Die AWB tree nie op nie, hulle is nie besig om hulself gereed te maak nie.
“Ek kon nie daarmee saamleef nie,” het Visagie gesê.
Dit het hom ook bekommer dat die AWB so lank gevat het om militêre opleiding aan hul lede te verskaf ná hul leier se dood.
Sy organisasie, die Geloftevolk Republikeine, het reeds 800 lede gelok.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA