Viljoen erken hy het Morné Steyn mislei
2010-07-07 09:16
Volksblad
Die oudheelagter van die Vrystaat Ernest Viljoen het Dinsdag in die Bloemfonteinse streekhof erken dat hy Morné Steyn, losskakel van die Springbokke en die Bulle, mislei het in ’n transaksie van R250 000 vir die handelsreg om eksklusief motorwasmasjiene te kan verkoop.
Dit het ook nou aan die lig gekom dat Morné, wat nou in Nieu-Seeland vir ’n Drienasie-toets Saterdag teen die All Blacks is, waarskynlik self in Viljoen se verhoor sal kom getuig.
Die verhoor is tot 19 Julie uitgestel wanneer ’n datum bepaal sal word wanneer Morné waarskynlik sal getuig.
Viljoen en JC Gie het voor streeklanddros J.B. Koekemoer skuld op ’n aanklag dat hulle Morné bedrieg het, ontken. Hulle ontken ook dat hulle sy geld gesteel het.
In ’n verklaring wat Bastiaan Theunissen, regsverteenwoordiger van Viljoen, in die hof voorgelees het, erken Viljoen dat hy deur sy wanvoorstelling, dat hy dié masjiene van Australië sou invoer en dit deur die legendariese Wallaby-vleuel David Campese gemaak word, in September/Oktober 2007 vir Morné oorreed het om R250000 in Gie se bankrekening in te betaal.
Hy erken ook dat hy dié geld nooit gebruik het om 23 masjiene te koop wat Morné moes kry nie.
Hy weet dat R43 000 daarvan aan P.W. Burger van Riversdal betaal is en R20000 is vir sy agterstallige huishuur betaal.
Dié twee bedrae was egter nooit bedoel dat dit uit Morné se R250000 moes kom nie.
Hy het vir Gie en Vennote gewerk en Gie moes dié geld buitendien uit ander kommissie, wat hy uit vragmotorverkope verdien het, betaal het.
Hy sê hy weet nie wat van die res van die R250000 geword het nie.
Oor die ander bedrogaanklag waarop hy teregstaan, erken Viljoen dat hy op 25 April 2007 aan Stephanus Grové ’n wanvoorstelling gemaak het dat hy die alleenreg het om motorwasmasjiene van Campese te versprei.
Hy het hom daardeur oorreed om ’n tjek van R31928 aan Call a Guard uit te maak, asof Call a Guard die masjiene sou verskaf.
Intussen was dit presies die bedrag wat hy (Viljoen) aan Call a Guard geskuld het en Grové het só sy geld verloor.
Hy sê ook dat Gie te alle tye in gesprekke met Morné en Grové by was.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad