‘Vigsveldtog teiken nie Zuma se leefstyl nie’
2010-05-16 00:36
Johannesburg – Die ANC-jeugliga het ontken dat hul vigsveldtog wat “een kêrel, een meisie” aanmoedig, op president Jacob Zuma gerig is wat meer as een vrou het, berig die koerant Sunday Times.
Die veldtog moedig mense aan om nie meer as een seksuele maat te hê nie.
Dié vigsveldtog is gestig aangesien verskeie seksuele maats nie goed is in ‘n era waar so baie mense aan vigs sterf nie, het Floyd Shivambu, woordvoerder vir die ANC-jeugliga, aan die koerant vertel.
Die veldtog kom nadat Julius Malema, omstrede leier van die ANC-jeugliga, gestraf is omdat hy oneenheid in die ANC aangebring het toe hy opmerkings oor Zuma gemaak het.
Hy het ‘n boete van R10 000 ontvang en moet klasse oor politieke onderwys voltooi.
Hy moet ook ‘n kursus bywoon oor hoe om sy woede te beheer.
Die veldtog word beskou as die jeugliga se manier om Zuma terug te kry omdat hy glo nie Malema se tugverhoor kon vermy nie.
“Ons veldtog word op alle kulture en ouderdomme gemik. Ons val nie president Zuma aan nie. Ons glo hy is ‘n verantwoordelike man,” het Shivambu gesê.
Volgens Shivambu wil die jeugliga nie hê mense moet dink dat hulle Zuma nie respekteer nie.
“Maar dit (die veldtog) is op almal toegepas,” het hy bygevoeg.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.