Vigsraad bekyk manlike besnydenis
2009-09-10 07:32
Rajaa Azzakani
Kaapstad - Adj.pres. Kgalema Motlanthe het gister gemaan dat mans wat besny is nie sommer moet aanvaar dat dit hulle teen MIV/vigs beskerm nie.
Motlanthe het in die parlement gesê die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad het met gesprekke rondom mediese manlike besnydenis begin omdat dit moontlik tóg kan bydra tot die voorkoming van MIV/vigs.
Hy het gereageer op ’n vraag deur dr. Bevan Goqwana, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid.
Goqwana het gesê navorsing toon dat 60% van alle mans wat besny is nie MIV/vigs sal opdoen nie en dat besnyde mans dalk onder die indruk kan wees dat dit vir hulle veilig is om seks sonder enige beskerming te hê.
Motlanthe het gesê die konsultasieproses is belangrik om verskeie redes, “veral vir kulturele praktyke”.
Hy het beklemtoon dat hy nie ’n verkeerde boodskap wil uitstuur oor die positiewe impak wat besnydenis tot dusver gehad het of die bydrae wat dit tot die voorkoming van MIV/vigs gemaak het nie. “Ons moet seker maak ons skep nie die illusie dat diegene wat besny is volkome teen MIV/vigs beskerm is nie. Die boodskap moet versigtig uitgestuur word sodat ons nie verwarring saai nie.”
- Die Burger