Vierjarige tweeling sterf in brand
2010-10-03 16:02
Johannesburg - 'n Vierjarige tweeling, wat in die sorg van 'n twaalfjarige
meisie gelaat is, is dood toe 'n plakkershut in Onverwacht, Cullinan aan die
brand geslaan het.
Die drie kinders is na bewering deur hul 55-jarige ouma
alleen gelaat toe sy 'n nagwaak in die buurt bygewoon het, het Gautengs
polisiewoordvoerder Johannes Jaftha gesê.
Die brand het Saterdagaand begin. "Die twaalfjarige het
uitgehardloop om hulp te kry en die tweeling in die hut gelos. Toe sy saam met
bure teruggekeer het, was dit te laat, want die tweeling was binne vasgekeer.”
Die tweelingbroer en -suster het doodgebrand. Die twaalfjarige is met ernstige brandwonde na die
Pretoriase Akademiese Hospitaal geneem.
Dit is nog nie bekend wat die oorsaak van die brand was nie. "Ons ondersoek 'n saak van brandstigting. Ons
kyk ook na die moontlikheid om die kinders se ouma aan te kla."
- SAPA