Vierjarige se lyk in woud gevind
2011-04-12 23:00
Johannesburg – Die lyk van ‘n vierjarige meisie, wat sowat ‘n week gelede vermis geraak het, is in ‘n woud buite Oos-Londen gevind, het die polisie Dinsdag gesê.
“Munisipale werkers, wat besig was om skoon te maak in die gebied, het Zukhanye Jiba se lyk naby ‘n rivier in Bufallo Pass gevind,” het kapt. Mluleki Mbi, polisiewoordvoerder, gesê.
Jiba is reeds sedert 2 April vermis toe sy uit die erf van haar ouerhuis in Mdantsane verdwyn het.
“Dit is moeilik om te sien of sy enige wonde aan haar lyf gehad het, omdat ontbinding reeds begin plaasvind het,” het Mbi gesê.
‘n Nadoodse ondersoek sal egter uitgevoer word om die presiese oorsaak van die vierjarige se dood te bepaal.
‘n Saak van ontvoering en moord word ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA