‘Viering moet pynlike realiteit omkeer’
2012-01-05 08:33
Johannesburg – Die naweek se feesvieringe in Bloemfontein moet Suid-Afrika se “pynlike” ekonomiese werklikheid, waar swart Suid-Afrikaners steeds benadeel word, omkeer.
So het Sdumo Dlamini, Cosatu-president, gister gesê.
“Die ekonomiese werklikheid is een waar Afrikane aan die kortste ent trek en dit lei tot ernstige gegriefdheid onder die werkersklas,” het Dlamini gesê.
Na verwagting sal meer as 100 000 ANC-lede en -ondersteuners die naweek in die Rosestad saamtrek om die ANC se 100ste bestaansjaar te vier.
Dlamini het uitgevaar teen partyleiers se “toenemend kapitalistiese ingesteldheid”.
Volgens Dlamini behoort die ANC sy ampstermyn te gebruik om ’n volhoubare ekonomiese magsbasis spesifiek vir swart Suid-Afrikaners te skep.
Meer as 80% van die JSE word deur banke en ’n handvol maatskappye in die mynbou- en energie sektore besit.
“Al dié maatskappye is wit, geprivatiseer, onder kapitalistiese eienaarskap en toenemende buitelandse besit.”
’n Situasie waar die meerderheid aandele van Suid-Afrikaanse maatskappye in wit en buitelandse hande is, skep ’n stelsel van imperialistiese eienaarskap, met die werkersklas wat daaronder ly, het Dlamini gesê.
“Ekonomiese mag is steeds baie gekonsentreerd.
“Die strewe na buitelandse eienaarskap, saam met die private eienaarskap van die Reserwebank, vererger die situasie waar die Suid-Afrikaanse ekonomie nie onder beheer van die werkersklas is nie.”
Volgens Dlamini is daar ’n kloof tussen kapitalistiese ANC-leiers en die werkersklas.
Hy het gesê die regerende party moet besluit hoe hy die bevrydingstryd verder gaan voer om nuwe hoogtes te bereik waarvan die “kruin” ’n plek sal wees waar die party se politieke vryheid ook ekonomiese vryheid tot gevolg het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld