Vierde politikus in Mpumalanga in 4 jaar vermoor
2012-01-05 09:37
Johannesburg – Mpumalanga het sy onbenydenswaardige reputasie gestand gedoen toe ’n hoëprofiel- ANC-politikus in die provinsie die vierde jaar agtereenvolgens in Januarie vermoor is.
Velaphi Ntshalintshali, ’n raadslid van die Pixley ka Seme-munisipaliteit in Volksrust, is eergister deur haar man, Carlos Chisana (56), ’n Mosambieker, doodgesteek.
Hy het homself kort daarna gehang.
Die bebloede mes waarmee hy Ntshalintshali doodgesteek het, is in sy sak gekry.
Volgens kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het Ntshalintshali en die egpaar se drie kinders by haar ma ingetrek ná ’n rusie tussen die egpaar.
Chisana het glo by die huis se een venster ingebreek, sy vrou aangeval en verskeie keer met die mes gesteek. Sy is op die toneel dood.
Die polisie het enkele ure later in ’n vervalle plakkershut op Chisana se lyk afgekom. Hy het hom aan ’n dakbalk opgehang.
Op 4 Januarie 2009 is Jimmy Mohlala, speaker van die Mbombela-munisipaliteit in Nelspruit, voor sy huis in KaNyamazane doodgeskiet.
Mohlala was glo op die punt om ’n klag van bedrog by die polisie in te dien wat verband gehou het met die bou van die WB 2010-sokkerstadion by Nelspruit.
Op 10 Januarie 2010 is Sammy Mpatlanyane, woordvoerder van Mpumalanga se departement van kuns, kultuur en sport, by sy huis in Nelspruit doodgeskiet.
Hy het korrupsie rondom die aanbied van WB 2010 in die provinsie aan die lig gebring.
Op 7 Januarie 2011 is Jan Holme Ndlovu (42), ANC-sweep in die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit, naby sy huis in Bosbokrand doodgeskiet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld