Vier vas wat Zimbabwiër stenig
2011-12-07 19:00
Polokwane – Vier mense is in hegtenis geneem nadat hulle ‘n Zimbabwiese man by Disteneng in Polokwane met klippe doodgegooi het, het die polisie Woensdag gesê.
Diegene wat in hegtenis geneem is, sluit in lede van die gemeenskap se polisie-forum en ‘n inwoner wat beweer dat die slagoffer geld en selfone by hom geroof het, het lt. kol. Moatshe Ngoepe gesê.
Die vier het glo ‘n groep mense gelei wat die man wreed aangeval en vermoor het nadat hy deur ‘n inwoner uitgewys is.
Ngoepe het gesê die slagoffer is na die Seshego-hospitaal geneem, waar hy kort daarna dood is.
“Ons is baie teleurgesteld dat drie uit die vier verdagtes lede is van die polisie-forum, wat veronderstel is om te verseker dat daar doeltreffende polisiebeheer in die gemeenskap is.”
Die vier sal na verwagting binnekort op ‘n aanklag van moord in die Polokwane-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA