Vier vas vir moord op polisiebeamptes
2012-08-31 20:46
Johannesburg – Vier mans is Vrydagoggend in hegtenis geneem in verband met die moord op twee Gautengse polisiebeamptes, het die polisie gesê.
Twee vuurwapens is in 'n huis gevind en 'n man is tydens 'n klopjag in Palm Ridge aangekeer, het kapt. Pinky Tsinyane gesê.
Die man het die polisie na twee ander mans in De Deur, suid van Johannesburg, gelei.
'n Vierde man is in Mpumalanga aangekeer en na Gauteng geneem.
"Ons soek al vir 'n geruime tyd na die mans. Ons ondersoeke het die mans met die misdaad verbind, maar vir nou is hulle nog net verdagtes hangende die uitslag van die ondersoek," het Tsinyane gesê.
Ao. Mongali Thomas Moagi en konst. Pantsi Daniel Tshakela Moagi is op 18 Augustus doodgeskiet terwyl hulle op 'n kaping in Sonland Park, Vereeniging gereageer het.
Die eienaar van 'n huis in Koraanstraat en sy broer het by die perseel uitgery toe 'n wit Elantra hulle geblokkeer het.
Drie mans het uitgeklim en hulle met vuurwapens aangehou waarna hulle die sleutels van hul motor geëis het.
Een van die slagoffers het probeer om na 'n polisievoertuig te hardloop wat verbygery het. Hy is egter deur een van die kapers in sy been geskiet.
Die drie kapers het daarna op die polisiebeamptes losgebrand nadat hulle uit hul motor geklim het.
Die twee polisiebeamptes is op die toneel dood. Hulle was by die Vereeniging-polisiestasie gestasioneer.
Die gewapende mans het in die polisie se voertuig ontsnap wat later verlate gevind is nadat hulle 'n ander voertuig gekaap het.
"Ons moet nog vasstel of die vierde verdagte wel by die voorval betrokke was," het Tsinyane gesê.
Die mans wat in hegtenis geneem is, is tussen die ouderdomme van 28 en 32.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA