Vier vas vir Oukersaand-moord
2011-12-31 17:04
Johannesburg – Vier mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n vrou in Nhlanhleni, het die polisie in KwaZulu-Natal Saterdag gesê.
Die mans, wat tussen die ouderdomme van 32 en 34 is, is in besit van verskeie onwettige vuurwapens gevind toe hulle Vrydagoggend deur die polisie in hegtenis geneem is, het lt.kol. Vincent Mdunge gesê.
Die mans het glo ‘n dertigjarige vrou op Oukersaand in die omgewing sowat 60 km suid van Dundee vermoor.
Een van die mans is ook aangekla van die onwettige besit van ‘n AK47 wat vermoedelik as die moordwapen gebruik is.
‘n Ander man is aangekla van die onwettige besit van ‘n rewolwer, pistool, haelgeweer en 67 rondes ammunisie.
Die vier verdagtes sal na verwagting Dinsdag in die Nhlanhleni-landdroshof verskyn.
In ‘n aparte voorval het die polisie twee mans en ‘n vrou in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens.
Een man was in besit van ‘n ongelisensieerde pistool en 14 rondes ammunisie. Die ander man het ‘n ongelisensieerde rewolwer gehad.
Die vrou het ‘n onwettige AK47 in haar besit gehad.
Die drie sal ook Dinsdag in die Nhlanhleni-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA