Vier vas oor bedrog van R3 miljoen
2013-02-04 12:48
Johannesburg – Vier mans is in Durban in hegtenis geneem weens hulle beweerde betrokkenheid by versekeringsbedrog ter waarde van R3 miljoen, het die polisie in KwaZulu-Natal Maandag gesê.
Die mans, wat verbind word met 'n plaaslike begrafnisondernemer, is Saterdag in hegtenis geneem.
Hulle het na bewering by twee maatskappye lewensversekering uitgeneem vir Themba Nene, wie se familie hom in Maart 2011 begrawe het, het kapt. Thulani Zwane gesê.
Een van die mans het hulle glo voorgedoen as die oorledene se broer.
Die eerste maatskappy het verlede jaar R3 miljoen uitbetaal. Die tweede maatskappy het nog nie uitbetaal nie.
Die polisie het vasgestel dat Nene se familie nie 'n doodsertifikaat kon kry nie. Dít nadat die begrafnisonderneming gesê het die oorledene se identiteitsdokument is vermis.
Die begrafnisonderneming het onderneem dat hy sal aansoek doen vir 'n doodsertifikaat wanneer hy die identiteitsdokument opspoor.
"Op 24 Januarie het die Nene-familie 'n besoek ontvang van 'n werknemer van die begrafnisonderneming, wat aan hulle gesê het die identiteitsdokument is opgespoor en dat hulle binnekort die doodsertifikaat sal ontvang."
Die werknemer het die volgende dag die doodsertifikaat en die identiteitsdokument gebring.
"Hy het 'n ekstra R15 000 kontant vir die familie gebring. Hy het aan hulle gesê die begrafnisonderneming bedank hulle vir hul geduld sedert Themba se dood."
Die doodsertifikaat het egter aangedui dat die man in September 2012 gesterf het.
Die mans het na bewering die man se identiteitsdokument gebruik om versekeringspolisse uit te neem en het valse inligting aan die maatskappye verskaf.
Die vier mans, tussen die ouderdomme van 34 en 66, sal Maandag op aanklagte van bedrog in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Durban verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA