Vier vas ná skietery in Limpopo
2011-07-23 20:10
Johannesburg – 'n Moordverdagte en drie van sy makkers is Vrydag in hegtenis geneem ná 'n skietery met die polisie in Giyani, Limpopo.
"Die polisie het 'n wenk ontvang dat 'n moontlike gewapende rooftog by 'n hardeware-winkel in Giyani gaan plaasvind. Waarna hulle op die uitkyk was vir die rowers se motor," het brig. Hanwani Mulaudzi gesê.
Mulaudzi sê hulle het die rowers begin volg sodra hulle die motor op die Malamulele-Giyani-pad gewaar het.
'n Skietery het uitgebreek en drie van die rowers is gewond. Mulaudzi het gesê die hoofverdagte word met 60 misdade insluitend moord en verkragting verbind.
"Die man het die polisie ontduik sedert hy verlede jaar in Februarie uit polisie-aanhouding in Vuwani ontsnap het," het hy gesê.
Twee voertuie en twee 9 mm-pistole is tydens die voorval gekonfiskeer. Een van die wapens was 'n dienspistool.
Die vier verdagtes sal Maandag in die Malamulele landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA