Vier vas ná rower se motor rol in KZN
2012-01-31 15:21
Johannesburg – Vier mans is in hegtenis geneem en een is nog op vrye voet nadat hulle glo ‘n Spar Supertrade-winkel in Mbazwana in die noorde van KwaZulu-Natal beroof het, het die polisie Dinsdag gesê.
Die gewapende roof, wat tot ‘n jaagtog met die polisie gelei het, het Maandag omstreeks 09:15 plaasgevind, het kapt. Thulani Zwane gesê.
“Daar word beweer dat al vyf verdagtes by die winkel ingegaan, maar twee van hulle was in Spar-uniforms geklee. Die twee het by die bestuurder se kantoor op die boonste verdieping ingegaan en hom van ‘n onbekende bedrag geld beroof voordat hulle almal in ‘n voertuig gevlug het.”
Die polisie het glo die Mazda 323 waarin die mans gevlug het in die Madonela-omgewing opgemerk.
“Die bestuurder het geweier om te stil te hou toe die polisie hom probeer aftrek. Hy het weggejaag, maar hy het beheer oor die voertuig verloor, waarna dit omgeslaan het.”
Vier van die mans, wat tussen 30 en 40 jaar oud is, is in hegtenis geneem en die polisie het op twee handgewere beslag gelê. ‘n Vyfde man het van die polisie gevlug.
Hulle sal na verwagting op aanklagte van gewapende roof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in die Ubombo-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA