Vier vas ná rooftog
2010-11-14 19:00
Johannesburg – Vier mans is in hegtenis geneem nadat hulle Sondag ‘n besigheid in Newtown, sentraal Johannesburg beroof het, het die polisie gesê.
Die verdagtes het die eienaar van Zadora Investment omstreeks 08:00 met ‘n vuurwapen aangehou nadat hy die deur vir hulle oopgemaak het.
Volgens kapt. Katlego Mogale het die eienaar gedink die verdagtes kom 'n pakkie aflewer.
Terwyl die verdagtes goedere op hul bakkie gelaai het, het mense gesien wat gebeur en die polisie gekontak.
Die polisie het drie mans op die dak van ‘n ander gebou gearresteer. Die vierde verdagte is in die stoorkamer in hegtenis geneem nadat hy tussen bokse weggekruip het.
Die vier verdagtes sal Maandag op aanklagte van gewapende roof, die besit van gesteelde goedere en ‘n ongelisensieerde vuurwapen verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA