Vier vas ná ontvoerdrama by Pta-laerskool
2012-12-06 07:01
Johannesburg – Vier buitelanders is in hegtenis geneem nadat 'n sewejarige meisie buite haar skool ontvoer is, het die polisie in Gauteng gesê.
Die kind se pleegma het haar omstreeks 07:30 Woensdagoggend by die Waterkloof-laerskool gaan aflaai, toe vier mans haar genader het, het kapt. Pinky Tsinyane gesê.
Die mans het hulle as polisiebeamptes voorgedoen en het die pleegma gedwing om uit die motor te klim en haar hande met kabelbinders vasgemaak.
Die kind se pa het haar toe gegryp en weggery.
Ander ouers het die polisie in kennis gestel en die vier mans is op die toneel in hegtenis geneem terwyl hulle probeer het om die pleegma in hul motor te laai.
"Die polisie is nou op soek na die meisie en haar 42-jarige pa, wat in 'n roomkleurige Mercedes Benz met die registrasienommer SPR 947 GP gevlug het. Die polisie vermoed dat hy sal probeer om die kind landuit te neem."
Nadat die kind se biologiese ouers huweliksprobleme gehad het, is sy in die pleegma se sorg gelaat. Die mans is na bewering elk R5 000 beloof om die kind te ontvoer, het Tsinyane gesê.
Die vier mans, tussen die ouderdomme van 21 en 45, sal binnekort op aanklagte van ontvoering en die nabootsing van polisiebeamptes in die hof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA