Vier vas ná hoëspoed-jaagtog
2011-11-09 22:46
Johannesburg – Vier mense is Woensdag in hegtenis geneem ná ‘n hoëspoed-jaagtog op die N12-snelweg naby Lenasia in Johannesburg, het die polisie in Gauteng gesê.
Die groep is vasgetrek nadat hulle teen ‘n hoë spoed in ‘n Corsa-bakkie op die N12 gejaag het. Die bestuurder het geweier om van die pad af te trek nadat die polisie aangedui het hy moet, het lt. kol. Katlego Mogale gesê.
‘n Jaagtog het gevolg en die polisie het die voertuig by die N12 Lenasia-afrit vasgekeer.
“Toe die bakkie afgetrek is, het die polisie dit deursoek en twee vuurwapens, waarvan die reeksnommers afgevyl was, gevind,” het Mogale gesê.
Die groep mans, tussen die ouderdomme van 33 en 35, is aangekla van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.
Hulle sal binnekort in die Protea-landdroshof verskyn, het Mogale gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA