Vier sterf in taxi-ongeluk
2011-12-24 14:29
Johannesburg – Vier mense het gesterf toe ‘n taxi omgeslaan het nadat dit ‘n sloot getref het in Port Elizabeth, het die polisie in die Oos-Kaap Saterdag gesê.
Die bestuurder het Vrydag omstreeks 21:00 in die rigting van die Cotswald- en Stanford-afritte gery toe hy beheer oor die voertuig verloor het. Sy passasiers is oor die pad geslinger toe die taxi omgeslaan het, het ao. Alwin Labans gesê.
Die vier wat dood is, is Marius Williamson (24), Simone Marx (24), Janaya van Rooyen (18) en ‘n vrou wie se naam nie bekend is nie.
Drie ander passasiers – ‘n 20-jarige man en twee vroue, onderskeidelik 43 en 39 jaar oud – en die 44-jarige bestuurder is ernstig beseer. Hulle is na die Livingstone-hospitaal geneem vir behandeling.
Labans het gesê die polisie stel ondersoek in. ‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek en nog aanklagte kan volg, het hy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA