Vier sterf in N12-botsing
2009-08-09 19:59
Johannesburg - Vier mense is Sondag dood en 14 beseer in 'n botsing op die N12, ongeveer 20 km buite Potchefstroom.
Beseerdes en motoronderdele het oor die snelweg in die rigting van Johannesburg gestrooi gelê ná die "gru-botsing" tussen drie voertuie, het ER24 se woordvoerder, Werner Vermaak, gesê.
"Twee voertuie, 'n bakkie en 'n Toyota Venture, het met mekaar op die snelweg gebots, en 'n derde voertuig het oomblikke later ook in dié twee vasgery.
"Drie volwassenes en 'n kind, ongeveer agt jaar oud, het op die toneel gesterf."
Vier beseerdes was in 'n kritieke toestand, insluitend 'n swanger vrou. Ses ander het ernstige beserings opgedoen, terwyl vier ander slegs geringe beserings opgedoen het.
"Al die beseerdes is na hospitale geneem", het Vermaak gesê.
- SAPA