Vier leerders vas vir diefstal by skool
2011-07-28 21:47
Johannesburg – Vier leerlinge is Donderdag in Dennilton in hegtenis geneem nadat hulle glo rekenaars en kruideniersware by hul skool gesteel het, het die polisie in Limpopo gesê.
Die seuns, wat tussen die ouderdomme van 14 en 17 is, het Woensdagaand by die kantore van die Ndoda dubbelmedium-skool ingebreek, het konst. Mmapitso Aphane gesê.
Hulle het glo kruideniersware gesteel wat gebruik word in die voedselskema-program.
Volgens Aphane het onderwysers bewus geword van die inbraak toe hulle Donderdagoggend by die skool opgedaag het.
“Een van die onderwysers het ‘n 16-jarige leerder verdink en hulle is onmiddellik saam met die polisie na sy huis.
“Toe die tiener hulle sien is hy by die agterhek uit en het hy weggehardloop.”
Die polisie het hom agterna gesit en hom uiteindelik gevang, het sy gesê.
Die seun het uiteindelik skuld erken en het die polisie na sy kamer gelei waar hulle verskeie blikkieskos en ‘n rekenaar gevind het.
Die seun het gevolglik sy drie medepligtiges genoem en die polisie na hul huise geneem, het Aphane gesê.
Die ander leerders het ook probeer weghardloop toe hulle die polisie by hul huise sien. Hulle is gevang en die polisie het beslag gelê op nog kos en twee rekenaars.
Die vier is aangekla van huisbraak en diefstal, sowel as van die besit van vermeende gesteelde eiendom.
Hulle sal na verwagting Vrydag in die Moutse landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA