Vier kritiek beseer toe bakkie rol
2011-12-18 23:03
Johannesburg – Vier mense is Sondag kritiek beseer toe hul bakkie op die N3-snelweg gerol en aan die brand geslaan het naby die De Hoek-plaza buite Johannesburg, het paramedici gesê.
Die bestuurder het beheer oor die bakkie verloor en dit het herhaaldelik gerol voordat dit aan die brand geslaan het, het Jeffrey Wicks, woordvoerder van Netcare 911, gesê.
Al die insittendes is uit die bakkie geslinger.
Een van die beseerdes is per helikopter na die Thembisa-staatshospitaal geneem. Die ander drie is per ambulans na ‘n staatshospitaal naby Villiers geneem, het Wicks gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA