Vier gearresteer oor gesteelde voertuig
2010-01-21 23:26
Johannesburg – Vier mans is in hegtenis geneem nadat ‘n gesteelde voertuig by ‘n stroopwerf in Sebokeng, Gauteng gevind is, het die polisie Donderdag gesê.
Konst. Linkie Lefakane, ‘n polisiewoordvoerder het gesê die mans is gearresteer nadat die polisie ‘n wenk uit die publiek gekry het, oor waar die gesteelde VW Golf gevind kan word.
“Die polisie het na die plek gegaan, en die gesteelde voertuig in stukkies gevind.”
Volgens haar was die motor as gesteel geïdentifiseer nadat die polisie sekere gedeeltes van die motor ondersoek het.
Die motorbande was ook teruggevind.
Die vier mans, tussen die ouderdomme van 24 en 31, is aangekla van diefstal en die besit van ‘n gesteelde voertuig.
Hulle sal volgende week in die hof verskyn.
- Sapa