Vier dood ná jaagduiwels glo ongeluk veroorsaak
2012-11-19 11:04
Kaapstad – Die polisie in Kaapstad ondersoek die rol van twee jaagduiwels in 'n ongeluk wat die lewe van vier mense op 'n hoofweg geëis het, het Cape Argus Maandag berig.
Volgens die berig het 'n taxi Sondagoggend op die M5 gery, waarna dit omgeslaan en in 'n sloot beland het.
'n Man en drie vroue, tussen die ouderdom van 50 en 72, is dood.
André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê 'n saak van strafbare manslag word ondersoek.
"Ons het rede om te glo dat die ongeluk veroorsaak is deur twee motors wat teen 'n hoë spoed gery en dalk resies gejaag het. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie."
Nurjehan Perin, 'n ooggetuie, het aan die koerant gesê sy en haar kêrel, Charl Krieger, het 'n silwerkleurige Mercedes-Benz en 'n swart-en-silwerkleurige Volvo op die pad gesien.
Die motors het glo van baan na baan beweeg. Sy het gesê die taxi het nie gejaag nie.
Krieger, 'n brandbestryder, het die nooddienste ontbied nadat die taxi omgeslaan het, en ander motoriste het ook stilgehou om te help.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA