Vier Kaapse leerders steek mekaar met messe
2012-10-24 10:07
Kaapstad – Vier leerders het mekaar tydens 'n pouse by 'n skool in Mitchells Plain, Kaapstad, met messe gesteek, is Woensdag berig.
Die Cape Times het berig dat die leerders van Aloe Junior High na 'n hospitaal geneem is. Een van die kinders was in 'n ernstige toestand.
Drie van hulle was in Graad 9, en die ander in Graad 7.
Bronagh Casey, woordvoerder vir Donald Grant, die LUR vir onderwys, het gesê die leerders is deur die polisie ondervra en die departement van onderwys het met 'n interne ondersoek begin. 'n Tugverhoor sal ook gehou word.
Andre Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan die koerant gesê dit wil voorkom of die leerders in 'n rusie betrokke was. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
Twee jeugdiges sal in verband met 'n onverwante voorval ook Woensdag in die Mosselbaai-landdroshof verskyn vir die dood van 'n 19-jarige by 'n skool in die gebied.
Thabani Mntini is Maandag by die Hillcrest-hoërskool in sy gesig en bors gesteek.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA