Vf+: Chaos in stadsrade ANC se skuld
2009-10-22 20:18
Johannesburg - Die minister van koöperatiewe regering, Sicelo Shiceka, se bekendmaking van ‘n verslag oor plaaslike regering is Donderdag deur die Vryheidsfront Plus verwelkom.
“Die erkenning dat die chaos in plaaslike regering die gevolg is van die ANC se jare lange beleid om kaders, eerder as professionele kundigheid, te ontplooi, is ‘n dapper erkenning”, het die party in ‘n verklaring gesê.
Volgens Pieter Groenewald, parlementêre woordvoerder van Plaaslike Regering vir die Vryheidsfront Plus pluk die ANC pluk nou die vrugte van ‘n Mbeki-erfenis wat alles waarteen die opposisie gewaarsku het, as rassisties gesien het.
Groenewald sê dit is egter te min, te laat.
“Die ANC is besig met krisisbestuur en wil nou poog om met ‘n nasionale poging die dienslewering en prestasies van munisipaliteite te verbeter. Dit is egter slegs in reaksie op die toenemende ontevredenheid in bepaalde munisipaliteite wat die regering tot optrede dwing”, lees die verklaring.
Groenewald sê dat indien die vergadering tussen president Zuma, burgemeesters en stadsbestuurders ten doel gehad het om te verseker dat alle munisipaliteite optimaal funksioneer en dienslewering verbeter, die Vryheidsfront Plus dit ondersteun.
“Die regering sal egter moet wys dat hy daadwerklik optree, anders is dit bloot gerig om die krisis met die oog op die komende munisipale verkiesing te ontlont en gemeenskappe te paai,” sê hy.