Vet bonus vir munisipaliteit-hoë
2012-12-19 14:25
Johannesburg – Die bestuurder van die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit (EDM) het 'n bonus van R140 000 ontvang ondanks 'n bevinding deur die Openbare Beskermer (OB) dat hy van diefstal aangekla moet word.
"Vir drie agtereenvolgende jare het die munisipale bestuurder 'n skoon oudit ontvang, die bonusse is daarvolgens toegeken," het 'n woordvoerder vir die munisipaliteit, Lucky Ngomane, Woensdag gesê.
Ngomane het gereageer op 'n berig in Beeld dat Hugh Mbatha 'n "produksiebonus" ontvang ondanks 'n aanbeveling deur die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, dat 'n klag van diefstal teen Mbatha by die polisie ingedien word.
Ngomane het gesê die raad het 'n besluit by verlede week se vergadering gemaak om Mbatha 'n bonus te gee.
"En hierdie was 'n geslote sessie. Ek weet nie waar Beeld hulle inligting vandaan kry nie."
"Sover ek weet is daar geen kriminele klagtes nie. As daar aantygings is, aantygings bly aantygings totdat die teendeel bewys word," het Ngomane gesê.
Madonsela het bevind dat Mbatha na bewering R120 000 van die munisipaliteit gesteel het.
Die bedrag het oorgebly nadat Mbatha, drie raadslede en nog twee amptenare in Mei 2008 ’n studietoer na Italië onderneem het.
Die OB het bevind Mbatha het die munisipaliteit glo tydens die toer beveel om €14 000 (nou sowat R165 500) in ’n amptenaar se kredietkaartrekening te betaal, glo onder meer omdat die EDM-afvaardiging nie van die Italiaanse kos gehou het nie.
Ná hul terugkeer is die oorblywende R120 000 in kontant uit die kredietkaartrekening onttrek.
Die geld is aan Mbatha gegee wat glo R20 000 aan elke lid van die toergroep gegee het.
Die ontvangers was Mbatha, Contance Mkhonto, voormalige burgemeester, Letta Shongwe, huidige burgemeester, Jimmy Sithole, ’n voormalige raadslid, Ernest Moukangwe, voormalige bestuurder van gemeenskapsdienste, en Roy Makwakwa, adjunkbestuurder van internasionale betrekkinge.
Die OB het aanbeveel dat tugstappe ook teen Mbatha gedoen word en die geld van die ontvangers verhaal word.
Volg Nuus24 op Twitter.