Verwerping van tweede oorgang 'nie terugslag'
2012-06-28 11:00
Johannesburg – Dit sal nie sleg reflekteer op pres. Jacob Zuma as die voorstel van die sogenaamde tweede oorgang verwerp word nie, het die ANC Donderdag gesê.
“Hoekom sal, wanneer een terminologie bevraagteken word, dit negatief reflekteer op die president?” het Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, gevra.
Hy het met SAfm gepraat in reaksie op verskeie koerantberigte wat Donderdagoggend gesê het die voorstel van die tweede oorgang is deur die meeste provinsies verwerp by die ANC se beleidskonferensie in Midrand, Johannesburg.
Business Day het dit beskryf as ‘n “terugslag vir Zuma”, maar Mthembu het die media se interpretasie bevraagteken.
Hy sê verskeie mediabronne het voorgestel “dit dui op ‘n verwerping van die president voor Mangaung”, in verwysing na die ANC se verkiesingskonferensie wat in Desember in Mangaung in die Vrystaat gehou word.
“Waar kom dit in?” het Mthembu gevra.
“Ek weet nie wat die bronne van hierdie berigte is nie.”
Hy sê die voorstel van ‘n tweede oorgang is nie Zuma se voorstel nie, maar ‘n ANC-gespreksdokument.
“Waaroor ons as die ANC bekommerd is, is die inhoud van daardie verslag. Of jy dit ‘tweede oorgang’ noem en of jy dit ‘versnelde groei’ noem...as ons met radikale oplossings vorendag kom, sal die ANC meer as gelukkig wees.
“Ons is nie getroud met die terminologie nie,” het Mthembu gesê.
Hy sê die ANC wil eenvoudig ‘n radikale oplossing vind oor hoe om armoede en werkloosheid te hanteer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA